Bouwe van der E...'s profileBouwe van der EemsPhotosBlogLists Tools Help

Blog


    April 27

    24 - 27 April : Tuisskoolkamp

    Hierdie jaar se kamp van die Cape Home Educators was in Stilbaai. Nadat die seuns by die laaste kamp deur die visvanggogga gebyt is, is hulle met hierdie kamp gereed vir visvang. Marthen en Corneel het hulle vistokke saamgeneem. Op die fotos is die Klipvis wat Marthen gevang het en die Kolstert wat Corneel gevang het.

    25042009(003)

    26042009(001)

    Dit was goed om die Kaapse tuisskolers nog beter te leer ken. Die weer het ook pragtig gehou.

    Op die terugpad het die Isuzu gaan staan. Op pad soontoe het hy al soms krag verloor. In Stilbaai het ons toe 'n nuwe dieselfilter ingesit. Toe ry hy weer soos altyd. Net na Swellendam het hy egter gaan. Nadat hy afgekoel het, het hy 'n tweede asem gekry, sodat ons tot Riviersonderend kon vorder. Van daar het oupa en oom Geert van Wijk ons gesleep. Ons is baie dankie vir die moeite wat die oom gedoen het.

    18 April : Tygerberg

    Die dag het ons saam met die kierieklub van die GK Bellville op die Tygerberg gaan stap. Dit is 'n tawwe staptoer met styl opdraandes en gepaartgaande afdraandes. Die weer was koel, en dit het eers begin reen nadat ons klaar gestap. Behalwe dat die wolke die uitsig 'n bietjie bederf het, was ons tog maar dankbaar oor die koelte. Op die foto is een van die rowwe opdraandes.

    24042009

    April 13

    13 April : Waterfront

    Ons was vir die dag by die waterfront. Die oggend is ons deur akwarium. Verder het ons ge-eet en gedrink en deur die plek gestap. Die seuns is getrakteer op 'n bunji jump masjien. Jy sit vas aan 'n rek en spring op 'n trampolien. Op die foto is Jurjen in een van die kontrepsies.

    13042009(008)

    4 April : Orkeskamp

    Diederik, Corneel en Jurjen was op 'n kamp saam met die DF Malan orkes. Die kamp was in die Okkie Jooste kampterrein in Stellenbosch. Die aande het hulle by oupa en ouma geslaap. Diederik het in die senior orkes gespeel, en Corneel en Jurjen in die beginnerorkes. Op die foto is die beginner orkes.

    04042009(005)

    26-27 Maart : Vloot Opedag

    Op hierdie dae was die opedag van die vloot. Die aand van die 26ste was daar 'n uitvoering van die vloot se orkes, in die droogdok. Die konsert was verniet, en ons moes dus maar vroeg kom om 'n goeie plek te kry. Ons het 'n piekniekmakdjie saamgeneem en ons ete in die droogdok geniet. Na die lang was het die konsert uiteindelik begin.

    Die konsert het bestaan uit 'n groot verskeidenheid en was uiters genotvol. Items het gevarieer van marse tot jazz tot pop. Die konsert is be-eindig met die 1812 overture van Tsjaikovski, met kanonne. Op die foto is die SAS Drakenberg, met die orkes daaronder.

     

    26032009(008)

    Op die 27ste was dit die opedag. 'n Tuisskoolma het 'n begeleide toer deur die fregat gereel. Verder was daar verskeie uitstallings in die Simonstad hawe. Ons kon ook deur die duikboot gaan. 'n Besonderse ervaring.

    27032009(015)

    March 21

    21 Maart : Staptoer by Kaap Punt

    Saam met die Kierieklub van die GK Bellville het ons die dag gaan stap by Kaap Punt. Dit was van Gifkommetjie af tot by Kaap Punt self. Die toer was omtrent 4 uur se stap. Nie veel opdraande en afdraande nie, maar tog was die stukke in die sand uitputtend. Pragtige uitsigte van see en berg al langs die pad. Ons het dit almal oorleef en dit baie geniet. Hieronder die nodige bewyse as julle dit nie wil glo nie.

    21032009(004)

    Soos julle kan sien (as julle mooi kyk) het Corneel dit sommer kaalvoet gedoen.

    14 Maart : Woordfees

    Die Kaap is van feeste inmekaar gesit. Daar is seker nie 'n tyd dat daar nie een of meer feeste aan die gang is nie. Die Woordfees in Stellenbosch is een van die feeste. Op hierdie dag is ons toe ook Stellenbosch toe om iets van die fees te ervaar.

    Die oggend is ek met die kinders na 'n toneelopvoering van Rooikappie. Dit was 'n baie genotvolle moderne weergawe van die ou verhaal.

    By die Protea Boekhuis het ons gaan luister na Fanus Rautenbach se seun wat gepraat het oor Staal Burger. Fanus self het daardie week 'n operasie aan sy heup gehad, en kon toe nou die verrigting bywoon nie. Dit was baie lekker vir die hele gesin, aangesien ons almal verslaaf is aan Staal Burger. By die geleentheid het ons toe ook een van sy boeke gekoop.

    Ook het ons by die Sasol kunsmuseum gaan kyk na die kunswerke van Willie Bester. Dis beelde wat gemaak is uit motoronderdele. Op die foto is 'n onderhoud met Willie Bester deur RSG, net agter die kunsmuseum.

    14032009(003)

    14 Maart : Bella se kleintjies

    Bella het 'n werpsel van 3 kleintjies gekry. Weereens natuurlike die oulikste klein goedjies. Nou was dit egter weer tyd dat hulle verkoop moet word en afskeid geneem moet word. Hierdie keer was dit moeiliker, aangesien mens meer geheg raak aan drie as aan sewe.

    5946aei_20

    7 Maart : US Simfonie Orkes

    Ek en Debbie het die aand gaan luister vir die US Simfonie Orkes. Ongelukkig het die US Simfonie Orkes nie blokbesprekings met billike pryse sodat ons hele gesin kan gaan nie. Daarom het net ek en Debbie gegaan.

    Ondanks hulle duur pryse, wat die saal stamvol. Op die program was Rachmaninov se 2de Klavierkonsert en Mahler se 1e simfonie. Dit was dus redelike groot werke wat hierdie orkes aangedurf het.

    Die Rachmaninov is goed uitgevoer, met 'n uitmuntende pianis. Netjiese samespel tussen orkes en solis.

    Die Mahler was egter effens bo die orkes se vuurmaakplek. Veral die horings het plek plek maar geswoeg met die moeilike passasies. In ag genome dat dit 'n studente orkes is, is dit nogtans 'n baie verdienstelike uitvoering gewees. Veral die klarinette was vir my 'n plesier om na te luister.

    07032009(001)

    28 Feb : Tuisskool sportdag

    Die Kaapse vereniging vir Tuisonderwys het sy sportdag by die Jagterhof sportgronde gehou die jaar. Een kilometer van ons huis af. In die oggend was daar atletiek en in die middag sokker, krieket en boeresport.

    Op die foto is ons besig met die toutrek. Ons gesin het al die pad gewen, want een van ons kinders was in die wenspan.

    28022009(003)

    Aan die einde van die dag is pryse gewen. Ons gesin het die prys gewen vir die mees deelnemende gesin. Dit wys jou dat 'n groot gesin nogal help.

    14 Feb : Boulders Beach

    Hierdie is seker een van die mees eksotiese strande. Soos Kapenaars betaam, het ons 'n slag 'n saterdag by die see deurgebring. Ons het gegaan na Boulders Beach, net buite Simonstad. Dit is 'n strand waar ook 'n hele kolonie pikkewyne woon. Jy kan daar piekniek en swem, en vir die pikkewyne kyk, terwyl die pikkewyne nie vir jou kyk nie. Hulle het ander dinge wat hulle besig hou.

    Op die foto is twee van die pikkewyne.

    14022009(002)

    7 Feb : Staptoer van Muizenberg na Vishoek

    Ons het saam met Robert Post en gesin, en ander tuisskolers gestap van Muizenberg na Vishoek, al langs die kus. Staptog is al langs die see, langs die treinspoor en gaan op netjiese sementpaadjies, rotse en eksotiese geteipoele wat ek nog nooit van die pad af gesien het nie.

    Op die foto is een van daardie geteipoele.

    Die middag het ons heerlik gekuier met die Post gesin en aan die einde is ons per trein weer terug na Muizenberg, waar ons motor geparkeer was.

     

    07022009(005)

    29 Jan : Vensterversierings en Jool

    Vir die eerste keer in baie jare is ons na die Vensterversierings by die Universiteit van Stellenbosch. Dit is deesdae heelwat anders as 25 jaar gelede. Daar is nie veel in die vensters te sien nie. Elke koshuis het 'n "show" aangebied. Woorde en musiek word van 'n CD gespeel oor die luidsprekers, terwyl studente toneelspeel en dans op die verhoog. Daar is maar min geleentheid vir individuele inisiatief.

    Die Karnaval was die saterdag daarna was die optog van die vlotte. Dit was darem nog soos die ou dae. Indrukwekkende vlotte met 'n aantal studente wat agteraan loop. Hier en daar 'n paar orkeste tussenin.

    31012009(003)

    17 Jan : Visvang

    Tydens die tuisskoolkamp November 2008 het die kinders visgevang. Aangesien die seuns nogal baie daarvan gehou het (seker afkomstig van oupa Brand), het Jurjen en Marthen visvanggewere (gewere wat die dobber uitskiet) gekry vir hulle verjaardag.

    Dit het natuurlik die volgende probleem geskep. Ons moet tyd maak om by die see uit te kom. Op hierdie dag het ons vir die eerste keer die toerusting gaan beproef, in Gordonsbaai.

    Die wind het vir 'n verandering nie gewaai nie. Die gewere het heel skaflik gewerk. Jurjen het 'n vis gevang met sy geweer, terwyl Corneel ook een gevang het met 'n lyn.

    Op die foto is Marthen by die viswater met sy geweer.

    17012009

    1 Jan : Aramis word geskeer

    In Januarie het dit stadigaan begin warmer word, en die honde het begin warmer kry. Op die foto word Aramis deur Lite geskeer.

    01012009(006)

    30 Des : Kersieplaas

    Amper voor die einde van die jaar het ons gesin saam met oupa en ouma 'n kersieplaas in Ceres gaan besoek. Jy betaal vir die kersies wat jy uit die plaas uitneem, maar jy kan soveel kersies eet terwyl jy pluk.

     

    Natuurlik het ons onsself dik ge-eet aan kersies, voordat ons die kersieplaas verlaat het, en enkele houers huistoe geneem. Nadat jy egter 'n oormaat van kersies gehad het, het jy die paar dae daarna redelik langtand ge-eet aan die kersies. Volgende keer sal ons maar minder kersies uitneem.

    In die foto is Jurjen in 'n boom, aan die eet en pluk.

    30122008(009)

    December 17

    16 Des : Geloftedag

    Ons eerste geloftedag in die Kaap sedert ons verhuis het. Ons het 'n geloftedag bygewoon by die Dunatos skool, wat binne die terrein van die Stikland hospitaal is. Dit was in 'n kleinerige saaltjie. Die saaltjie wat stampvol. Oorwegend ou mense, maar darem ook 'n handjievol gesinne met kinders. Die geloftelesing en die preek was heel goed. Die predikant het mooi die klem gele op die feit dat die slag gegaan het oor God se koninkryk en dat al die eer God moet toekom. Verder het hy ook klem gele daarop dat Andries Pretorius 'n ouderling was, wat die leiding geneem het, en 'n oproep gedoen dat ouderlinge weer leiding gee in die kerk.

    Na die tyd het ons nie eintlik gekuier nie, want ons het amper niemand daar geken nie. Oom Ben van der Walt wat ons vertel het van die fees kon nie lank bly nie, aangesien sy vrou by die huis was waar sy na haar ma van 90 gekyk het.

    Ons was positief verras, maar het maar baie verlang na die heerlike feeste in Kleinfontein waar mense die heeldag kuier en die kinders 'n oorvloed aan maats het. Langs die saaltjie was daar 'n kinderplaas met plaasdiere en perde. Op die foto is Diederik by die plasie.


    13 Des : Gordon's Baai

    Vir die eerste keer was ons regtig see toe. Mamma en Lite het na 'n lesing gegaan oor bitless dressage in Gordon's Baai, en pappa en die seuns is na Bikini strand toe. Die seuns het 'n bietjie geswem, aangesien die water koud was. Dit was ook nie baie warm nie, want die wind het gewaai, alhoewel ons voete gebrand het op die sand. Verder het die seuns tussen die rotse gespeel en Mathen het 'n klein krap gevind. Die middag is ons via Sir Louwries Village na Stellenbosch waar ons by oupa en ouma gekuier het.


    November 21

    14 Nov : Tuisskoolkamp in Clanwilliam

    Die naweek was ons by 'n kamp vir tuisskolers by die Boegoeberg 4X4 se kamp naby Clanwilliam.

    Omtrent 20 gesinne was daar. Dit was 'n kamp wat net reg was vir tuisskolers. As jy as gesin op jou eie wil wees, kon jy dit doen. As jy in die bondel wil kuier, dan is dit ook reg.

    Ons het saam gaan stap na die sandsteen steengroef. Die sandsteen van die Sevenwacht winkelsentrum het uit hierdie steengroef gekom.

    Daar was 'n swembad en 'n dam. Eers het die kinder in die swembad geswem, maar later het die dam gewilder geword, omdat die water warmer was. Ons het die kinder skaars gesien die naweek. Hulle was maar altyd by die water.

    Eerstens was dit om te swem. Later het hulle geleer om vis te vang. Teen die laaste dag van die kamp was hulle verslaaf daaraan. Op die foto is die kinders by die visstok.

     

    16112008(001)

    November 01

    25 Okt : Tuisskool Eistedfodd

    Ons koperblaaskwartet het by die tuisskool eistedfodd in die Bellville stadsaal opgetree. Ons het heel gemaklik gespeel en die hele dag baie geniet. Verder het ons ook heelwat kontakte gemaak. So stadigaan begin ons darem inskakel.

    25102008