| Bouwe van der E...'s profileBouwe van der EemsPhotosBlogLists | Help |
|
March 21 21 Maart : Staptoer by Kaap PuntSaam met die Kierieklub van die GK Bellville het ons die dag gaan stap by Kaap Punt. Dit was van Gifkommetjie af tot by Kaap Punt self. Die toer was omtrent 4 uur se stap. Nie veel opdraande en afdraande nie, maar tog was die stukke in die sand uitputtend. Pragtige uitsigte van see en berg al langs die pad. Ons het dit almal oorleef en dit baie geniet. Hieronder die nodige bewyse as julle dit nie wil glo nie. Soos julle kan sien (as julle mooi kyk) het Corneel dit sommer kaalvoet gedoen. 14 Maart : WoordfeesDie Kaap is van feeste inmekaar gesit. Daar is seker nie 'n tyd dat daar nie een of meer feeste aan die gang is nie. Die Woordfees in Stellenbosch is een van die feeste. Op hierdie dag is ons toe ook Stellenbosch toe om iets van die fees te ervaar. Die oggend is ek met die kinders na 'n toneelopvoering van Rooikappie. Dit was 'n baie genotvolle moderne weergawe van die ou verhaal. By die Protea Boekhuis het ons gaan luister na Fanus Rautenbach se seun wat gepraat het oor Staal Burger. Fanus self het daardie week 'n operasie aan sy heup gehad, en kon toe nou die verrigting bywoon nie. Dit was baie lekker vir die hele gesin, aangesien ons almal verslaaf is aan Staal Burger. By die geleentheid het ons toe ook een van sy boeke gekoop. Ook het ons by die Sasol kunsmuseum gaan kyk na die kunswerke van Willie Bester. Dis beelde wat gemaak is uit motoronderdele. Op die foto is 'n onderhoud met Willie Bester deur RSG, net agter die kunsmuseum. 7 Maart : US Simfonie OrkesEk en Debbie het die aand gaan luister vir die US Simfonie Orkes. Ongelukkig het die US Simfonie Orkes nie blokbesprekings met billike pryse sodat ons hele gesin kan gaan nie. Daarom het net ek en Debbie gegaan. Ondanks hulle duur pryse, wat die saal stamvol. Op die program was Rachmaninov se 2de Klavierkonsert en Mahler se 1e simfonie. Dit was dus redelike groot werke wat hierdie orkes aangedurf het. Die Rachmaninov is goed uitgevoer, met 'n uitmuntende pianis. Netjiese samespel tussen orkes en solis. Die Mahler was egter effens bo die orkes se vuurmaakplek. Veral die horings het plek plek maar geswoeg met die moeilike passasies. In ag genome dat dit 'n studente orkes is, is dit nogtans 'n baie verdienstelike uitvoering gewees. Veral die klarinette was vir my 'n plesier om na te luister. 28 Feb : Tuisskool sportdagDie Kaapse vereniging vir Tuisonderwys het sy sportdag by die Jagterhof sportgronde gehou die jaar. Een kilometer van ons huis af. In die oggend was daar atletiek en in die middag sokker, krieket en boeresport. Op die foto is ons besig met die toutrek. Ons gesin het al die pad gewen, want een van ons kinders was in die wenspan. Aan die einde van die dag is pryse gewen. Ons gesin het die prys gewen vir die mees deelnemende gesin. Dit wys jou dat 'n groot gesin nogal help. 14 Feb : Boulders BeachHierdie is seker een van die mees eksotiese strande. Soos Kapenaars betaam, het ons 'n slag 'n saterdag by die see deurgebring. Ons het gegaan na Boulders Beach, net buite Simonstad. Dit is 'n strand waar ook 'n hele kolonie pikkewyne woon. Jy kan daar piekniek en swem, en vir die pikkewyne kyk, terwyl die pikkewyne nie vir jou kyk nie. Hulle het ander dinge wat hulle besig hou. Op die foto is twee van die pikkewyne. 7 Feb : Staptoer van Muizenberg na VishoekOns het saam met Robert Post en gesin, en ander tuisskolers gestap van Muizenberg na Vishoek, al langs die kus. Staptog is al langs die see, langs die treinspoor en gaan op netjiese sementpaadjies, rotse en eksotiese geteipoele wat ek nog nooit van die pad af gesien het nie. Op die foto is een van daardie geteipoele. Die middag het ons heerlik gekuier met die Post gesin en aan die einde is ons per trein weer terug na Muizenberg, waar ons motor geparkeer was.
29 Jan : Vensterversierings en JoolVir die eerste keer in baie jare is ons na die Vensterversierings by die Universiteit van Stellenbosch. Dit is deesdae heelwat anders as 25 jaar gelede. Daar is nie veel in die vensters te sien nie. Elke koshuis het 'n "show" aangebied. Woorde en musiek word van 'n CD gespeel oor die luidsprekers, terwyl studente toneelspeel en dans op die verhoog. Daar is maar min geleentheid vir individuele inisiatief. Die Karnaval was die saterdag daarna was die optog van die vlotte. Dit was darem nog soos die ou dae. Indrukwekkende vlotte met 'n aantal studente wat agteraan loop. Hier en daar 'n paar orkeste tussenin. 17 Jan : VisvangTydens die tuisskoolkamp November 2008 het die kinders visgevang. Aangesien die seuns nogal baie daarvan gehou het (seker afkomstig van oupa Brand), het Jurjen en Marthen visvanggewere (gewere wat die dobber uitskiet) gekry vir hulle verjaardag. Dit het natuurlik die volgende probleem geskep. Ons moet tyd maak om by die see uit te kom. Op hierdie dag het ons vir die eerste keer die toerusting gaan beproef, in Gordonsbaai. Die wind het vir 'n verandering nie gewaai nie. Die gewere het heel skaflik gewerk. Jurjen het 'n vis gevang met sy geweer, terwyl Corneel ook een gevang het met 'n lyn. Op die foto is Marthen by die viswater met sy geweer. 30 Des : KersieplaasAmper voor die einde van die jaar het ons gesin saam met oupa en ouma 'n kersieplaas in Ceres gaan besoek. Jy betaal vir die kersies wat jy uit die plaas uitneem, maar jy kan soveel kersies eet terwyl jy pluk.
Natuurlik het ons onsself dik ge-eet aan kersies, voordat ons die kersieplaas verlaat het, en enkele houers huistoe geneem. Nadat jy egter 'n oormaat van kersies gehad het, het jy die paar dae daarna redelik langtand ge-eet aan die kersies. Volgende keer sal ons maar minder kersies uitneem. In die foto is Jurjen in 'n boom, aan die eet en pluk. |
|
|