Bouwe van der E... 的个人资料Bouwe van der Eems照片日志列表 工具 帮助

日志


12月17日

16 Des : Gelofterede 2007 op Kleinfontein

Geagte volksgenote en kinders.

Die gelofte roep ons op om die slag van Bloedrivier met ons kinders te herdenk. Herdenk, beteken om weer daaroor te dink. Daarom gaan ek die verhaal weer vertel. Maar ek gaan eers van ʼn ander slag vertel. Een wat baie soos Bloedrivier was.

Die voortrekkers was nie die eerste volk wat ʼn gelofte gemaak het nie. In die Bybelse tye het die volk Israel ook ʼn gelofte gemaak. Die voortrekkers het die Bybel goed geken, en het hierdie slag dalk as ʼn voorbeeld gebruik. Dit was die oorlog van die Israeliete teen die koning van Arad.

Die geskiedenis van die Israeliete en hulle gelofte

Die Israeliete is afkomstig van Jakob en al sy mense wat in Egipte aangekom het toe sy seun Josef die onderkoning was. Hulle was altesaam 70 mense. (Gen. 46:27)

Terwyl die Israeliete in Egipte gewoon het, is hulle onderdruk. In Eks. 1:13,14 staan daar: “Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye—al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.”

Nadat hulle 430 jaar in Egipte gewoon het, het hulle ʼn baie groot volk geword. Die nageslag van Jakob en sy mense, het gegroei tot 625 899 geteldes (dis die manne van 20 jaar en ouer). As ons aanneem dat daar vir elke getelde 4 ander mense was, dan het die volk gegroei tot 2.5 miljoen mense in totaal. Dit is ʼn groei van 2.5% per jaar. Die Bybel noem dit ʼn buitengewone vermeerdering.

Nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, het hulle tot by die grens van Kanaän gekom. Toe hulle egter nie vertrou het dat die Here die land vir hulle sou gee nie, moes hulle vir 40 jaar in die woestyn bly. Na 40 jaar begin hulle weer optrek na die land Kanaän. Op pad na Kanaän moes hulle deur die land Edom trek. Toe die koning van Edom weier dat hulle deur sy grondgebied trek, het hulle om die land Edom getrek. Die Israeliete wou in vrede deur die lande trek op pad na Kanaän. Hulle was ook nie voorbereid op oorlog nie. Die volk het 40 jaar gelede laas oorlog gemaak teen die Amalekiete. Die jong manne wat nou geleef het, het nog nooit oorlog gemaak nie. Maar sonder dat die Israeliete hulle uitgelok het, het die koning van die land Arad besluit om Israel aan te val.

In Num. 21:1 – 3, lees ons dan die verhaal van die koning van Arad. ʼn Verhaal wat baie ooreenstem met die geskiedenis van Bloedrivier. “Toe die Kanaäniet, die koning van Arad, wat in die Suidland gewoon het, hoor dat Israel met die pad van Atarim kom, het hy teen Israel geveg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer. Daarop het Israel aan die HERE ʼn gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref. En die HERE het gehoor na die stem van Israel en die Kanaäniete oorgegee. En hy het hulle en hul stede met die banvloek getref en die plek Horma genoem.

Aanvanklik het Arad gewen teen die Israeliete en van hulle gevange geneem. Hierdie oorwinnings het daartoe gelei dat Arad vol vertroue was dat hy in staat gaan wees om die volk Israel uit te wis. Mattew Henry, een van die oudste en mees betroubare bybelverklaarders, stel dit soos volg : “Sy voorposte het verstrooid geraakte Israeliete gevange geneem. Hierdeur het hy opgeblase geword en het hy begin dink dat hy die eer sou kry om hierdie gedugte volk te verpletter, ...”[1] Die volk Israel het die eerste veldslag verloor. Hulle stel hulle vertroue nou op die Here. Die volk Israel verootmoedig haar voor God, en maak ʼn gelofte waarvolgens hulle die stede van Arad met die banvloek sal tref, indien God hulle help teen hierdie volk. God het die gelofte van die Israeliete verhoor, en die Israeliete het die koning van Arad oorwin.

Dit was die geskiedenis van die Israeliete en hulle gelofte.

Die geskiedenis van die voortrekkers en hulle gelofte

Die voortrekkers is afkomstig van die Hollanders wat in 1652 by die huidige Kaapstad aangeland het met ongeveer 130 blankes. Die Hollanders het oor die Kaapkolonie regeer totdat die Engelse in 1795 die bewind oorgeneem het. Toe die Engelse die regering oorneem het die Kaapkolonie gestrek tot by die Visrivier in die ooste. Die nageslag van die Hollanders wat in die Kaap aangeland het, het gegroei tot ongeveer 18000 blankes plus nog slawe en Hottentotte.

Die blankes het dus vermeerder van 130 tot 18000 in 143 jaar. Dit is ʼn groei van 3.5% per jaar. In dieselfde tyd het die wêreldbevolking gegroei van 500 miljoen tot 1000 miljoen. Dit is ʼn groei van 0.5% per jaar. Die blankes het dus 7 keer vinniger vermeerder as die gemiddeld van die wêreld. Dit is ook ʼn buitengewone vermeerdering.

28 jaar nadat die Engelse die regering oorgeneem het, het die Groot Trek begin. Die wat weggetrek het, is die voortrekkers genoem. Die redes hoekom hulle getrek het is deur Piet Retief, een van hulle belangrikste leiers opgeskryf :

a) Die land word geteister deur oproerige en oneerlike leeglopers.

b) Die boere het groot verliese gelei toe hulle slawe sonder vergoeding vrygestel is.

c) Die boere lei onder konstante plundering deur Swartes en ander Gekleurde rasse.

d) Ondanks alle getuienis in hulle guns, word die boere altyd geblameer vir alles wat verkeerd loop deur die sendelinge, en hierdie valse beskuldigings word geglo deur die Britse regering.

Eers wou die voortrekkers na Natal trek omdat die land plantryk was met baie bome en water.

Die manier waarop Retief daar land wou kry was deur vreedsame onderhandeling en deur die land te koop. In sy manifes sê Retief dat hulle niemand sal molesteer of van die kleinste besitting beroof nie.[2] In sy eerste besoek aan Dingaan sê Retief die volgende : “Ons het gekom om ʼn stuk land van jou te koop. Ons kom baie ver en ons land word te klein, ons word te veel mense en kan nie meer ʼn goeie bestaan voer nie. Ons merk dat jy ʼn groot land het wat van die Drakensberg tot by die see leeg lê, en ons wil die land van jou koop.” [3] Soos ooreengekom met Dingaan, het Piet Retief die beeste wat Sekonyela by Dingaan gesteel het, by Sekonyela gaan haal. Die manier waarop Retief die beeste gaan haal het, dui ook daarop dat Retief onderhandeling verkies bo geweld, aangesien hy die beeste gaan haal het sonder om een skoot te skiet.[4] Tydens sy tweede besoek aan Dingaan het Retief die gesteelde beeste vir Dingaan teruggegee. As antwoord op ʼn vraag van Dingaan tydens daardie besoek sê Retief die volgende : “Hulle [dis die Voortrekkers in Transvaal – BvdE] wil nie in ʼn ander man se land woon as hulle dit nie geruil het nie; en Mzilikazi het gevlug, sodat hulle nie met hom oor ruil kan praat nie.” [5] Tydens hierdie besoek, op Sondag 4 Februarie 1838, het Dingaan ʼn traktaat onderteken waarvolgens die land tussen die Tugela en die Umzimvuburivier aan Retief en sy volksgenote toegeken word.[6]

Nadat die traktaat onderteken is, het Dingaan Retief en sy manne genooi om nog ʼn dag te bly. Terwyl hulle daar was, het hulle ongewapend in Umgungundlovu rondgeloop. Alhoewel hulle gewaarsku is teen gevaar, was Retief en sy manne vol vertroue dat hulle veilig was, aangesien hulle geglo het dat Dingaan hulle goedgesind was, aangesien hulle by hul kant van die ooreenkoms gehou het.[7]

Twee dae na die ondertekening van die traktaat, het Dingaan se impi’s vir Piet Retief, sy 70 metgeselle en 30 agterryers wreedaardig vermoor.[8] Oor die rede vir Dingaan se optrede word daar baie gewonder. Gegee Piet Retief se woorde en dade, is dit moeilik om te glo dat die voortrekkers aanleiding gegee het tot hierdie optrede. Volgens ʼn Zoeloe geskiedkundige, lyk dit of ʼn Engelsman handelaar, Thomas Halstead aanleiding gegee het dat Dingaan baie kwaad geword het. Hierdie man het oor die muur geloer en gekyk na Dingaan se vroukwartiere. Iets wat verbode was.

Nadat Piet Retief en sy manne vermoor is, het die Zoeloes die voortrekker laers by Bloukransrivier en Moordspruit uitgewis. Soos Retief het hulle ook geen aanval van die Zoeloes verwag nie. Hulle het in blye verwagting op Retief gewag om hulle te kom sê dat hulle hul in Natal kan kom vestig. Hulle waens was nie in ʼn laer saamgetrek nie, en niemand het waggestaan deur die nag nie. [9]

Daar was 25 000 duisend vee gesteel, 41 mans vermoor, 56 vrouens vermoor en 185 kinders vermoor. Daar is so baie kinders vermoor, omdat daar eenvoudig so baie kinders was. Daar was dus meer kinders onder die voortrekkers as mans en vrouens saam.

Na hierdie moorde van die Zoeloes, het die Voortrekkers beplan om wraak te neem. ʼn Kommando onder leiding van Piet Uys en Hendrik Potgieter het op 6 April 1838 met 347 man vertrek. Hierdie kommando het die Zoeloemag by uMtaleni teengekom. Weens die onenigheid tussen die twee leiers, en Piet Uys en sy manne wat vol vertroue was na aanvanklike sukses teen die Zoeloes, het die Zoeloes hulle in ʼn lokval gelei by uMtaleni. Die uiteinde was dat die kommando moes vlug. In hierdie slag het nog ʼn leier, Piet Uys gesterf. [10] Tydens hierdie slag het Hendrik Potgieter en sy kommando niks gedoen om Piet Uys en sy manne te help nie. Hierdie optrede het daartoe gelei dat meeste Natalse Voortrekkers opstandig en vyandig geword het teenoor Potgieter, en dat Potgieter weer teruggetrek het na Transvaal toe.[11] Nou sit die voortrekkers in Natal sonder ʼn leier. Piet Retief is dood, Piet Uys is dood en Potgieter is weg.

Na al hierdie oorwinnings was die Zoeloes vol vertroue dat hulle die Voortrekkers sou kon verslaan.[12] Met hulle getalle en hulle listige planne was hulle seker dat hulle sal kan wen.

Met ʼn nuwe leier, Andries Pretorius, het die Voortrekkers met 500 man opgetrek teen die Zoeloes. Te oordeel aan die uiterlike het die Voortrekkers nie veel van ʼn kans gehad nie. Hulle was 500 man teenoor 15000 Zoeloes. Hulle wapens was outyds, sensitief vir vog en kon maklik oorverhit. In die slag van Insandlwana (40 jaar na Bloedrivier) het ʼn Zoeloemag van 20000 impi’s ʼn modern gewapende Britse mag van 1500 man oorweldig waarvan 1350 man gesneuwel het.[13] Omdat dit duidelik was vir die Voortrekkers dat slegs God hulle die oorwinning kan gee, het hulle ʼn gelofte gemaak waarvolgens hulle beloof om elke jaar die dag van die veldslag te herdenk soos ʼn Sabbat, indien God hulle die oorwinning gee. Op 16 Desember 1838 het die HERE die Voortrekkers die oorwinning oor die Zoeloes gegee.

Dis was die geskiedenis van die voortrekkers en hulle gelofte.

In hierdie twee geloftes, en die omstandighede daarvoor, is daar twee dinge wat aandag trek, naamlik vertroue en vermeerdering van nageslag. Vertroue beteken om seker te wees dat iemand iets gaan doen. In hierdie geskiedenis gaan dit oor die vraag, op wie is daar vertrou, en op wie nie? Nageslag verwys na die kinders en die kinders se kinders.

Hoekom is hierdie twee dinge belangrik? God meen dat hierdie dinge belangrik is. As vertroue nie belangrik was nie, sou God nie die Israeliete 40 jaar in die woestyn laat bly het, omdat hulle nie vertrou het dat Hy hulle sou help om die Kanaäniete te oorwin nie. As nageslag nie belangrik was nie, sou daar nie ʼn boek spesiaal daaroor in die Bybel wees nie, naamlik die boek Numeri.

Lesse oor vertroue

In hierdie twee gebeure vind ons die voorbeelde van mense wat vertrou op die goedgesindheid van ander mense of op hulle eie kragte:

a) Na sy aanvanklike suksesse, het die koning van Arad vol selfvertroue geraak, en die resultaat was dat sy stad met die banvloek getref is.

b) Piet Retief en sy manne begeef hulle in ʼn gevaarlike situasie by Umgungundlovu, aangesien hulle vertrou het op die goedgesindheid van Dingaan. Alhoewel hulle geen aanleiding gegee het tot Dingaan se woede nie, is hulle tog deur Dingaan vermoor.

c) Die Voortrekkers by Bloukransrivier en Moordspruit het ook vertrou op die goedgesindheid van Dingaan. Hulle is heeltemal onverwags deur die Zoeloes oorval en uitgemoor.

d) Na sy aanvanklike sukses, het Piet Uys en sy manne vol vertroue op hulleself geraak. As gevolg hiervan is hulle in ʼn lokval by uMtaleni gelei en baie van hulle is vermoor.

e) Na sy oorwinnings by Umgungundlovu, Bloukransrivier, Moordspruit en uMtaleni, het Dingaan vol selfvertroue geraak. Die gevolg daarvan is dat Dingaan se leër by Bloedrivier verslaan is.

Hierdie voorbeelde leer ons dat die wat vol vertroue raak op eie krag of op die goedgesindheid van ander mense, sterf. In Jer. 7:5 leer die Bybel ons die volgende : “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.” En in Ps. 49:14 staan daar : “Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde ʼn behae het. Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie.”

Ons vind hier ook voorbeelde van mense wat geen vertroue meer het in eie krag of die goedgesindheid van mense nie, maar hulle vertroue alleen op God stel:

a) Die Israeliete verootmoedig hulle voor God, en stel hulle vertroue op God om hulle die oorwinning te gee. Hulle maak hierdie vertroue publiek deur ʼn gelofte af te lê. Die uiteinde daarvan is dat God hulle die oorwinning gee.

b) Andries Pretorius en sy manne stel hulle vertroue op God alleen, en lê 'n gelofte af, waarin hierdie vertroue publiek uitgespreek word. Die uiteinde daarvan is dat die Voortrekkers by Bloedrivier die mag van die Zoeloeryk gebreek het.

Hierdie voorbeelde leer ons dat die wat op God alleen vertrou word gered. In Jer. 7:7 leer die Bybel dit ook soos volg: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.” En in Ps. 91:2 staan daar: “Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.” en verder in vers 7 en 8: “Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.

Lesse oor nageslag

Die manne wat by Bloedrivier geveg het, was nie ʼn groep avontuurlustige enkelinge wat gehou het van oorlog nie. Die meeste van hulle was vaders van gesinne met vrouens en kinders in die laers, ter wille van wie hulle geveg het.

Uit die geskiedenis van die Israeliete en die voortrekkers leer ons dat hulle baie kinders gehad het en dat die ouers hulle kinders onderrig het.

a) Die volk Israel, was ʼn volk wat die Here buitegewoon laat vermeerder het. In Eks. 1:7 staan daar : “Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.”
Vir die Israeliete het die Here ook die opdrag gegee dat ouers hulle kinders moet onderrig in Deut. 6:6 “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”

b) Die voortrekkers was deel van ʼn volk wat ook buitengewoon vermeerder het. Van 130 in 1652, tot 18 000 in 1795 en tot 2.5 miljoen in 1938. In die hoeveelheid kinders wat die Zoeloes doodgemaak het, sien ons ook dat hulle baie kinders gehad het.
Die voortrekkers het ook min onderwysers gehad, en ouers het hulle kinders self uit die Bybel onderrig. Die voortrekkers het min predikante gehad, maar elke dag het hulle huisgodsdiens gehou waar daar uit die Bybel gelees is en psalms gesing is.

Beide die Israeliete en die voortrekkers het ʼn groot nageslag gehad ter wille van wie hulle geveg het. David dit stel so in Ps. 144 : “U wat aan konings die oorwinning gee, wat u kneg Dawid ontruk aan die gevaarlike swaard. Ruk my uit en red my uit die hand van vreemdes, wie se mond leuens spreek en wie se regterhand ʼn regterhand van bedrog is; sodat ons seuns soos plante mag wees wat opgekweek is in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare wat uitgebeitel is na die boustyl van ʼn paleis

Die twee dinge, vertroue en nageslag, is die dinge wat vir ons ook hoop behoort te gee.

Van vertroue en nageslag tot hoop

Die situasie van die voortrekkers voor die Groot Trek was baie soos ons situasie nou is. Die feit dat ons nou hier is, beteken dat daar vir hulle hoop was. Daar kan dus vir ons ook hoop wees. As daar ʼn vertroue op God alleen, en ʼn nageslag is.

Ons het reeds gesien dat ons kan seker wees van oorwinning, as ons op God alleen vertrou. Nie op ʼn generaal, die goedgunstigheid van ʼn president, ʼn parate polisiemag of ʼn politieke party nie.

Oorwinning is egter slegs sinvol as die stryd gestry word ter wille van ʼn nageslag wat God eer vir die oorwinning. Die wat hoop op die oorwinning, het daarom kinders wat die Here prys, want God gebruik hierdie kinders om die vyand se mond snoer. In psalm 8 staan daar : “Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.” Netso is die gelofte van Bloedrivier ondenkbaar sonder ʼn nageslag, aangesien die gelofte sê : “... en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.”

Ons weet dus dat God sy sterkte grondves uit die mond van kinders. Maar volksgenote, kan ons egter seker weet dat dit ons kinders is?

Psalm 8 sê : “... hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde” As ons kinders na skole gaan waar hulle geleer word dat die aarde en alles daarop deur evolusie ontstaan het, gaan God sy sterkte op ons kinders bou?

Psalm 8 sê: “U wat u majesteit gelê het op die hemele” As ons kinders na skole gaan waar hulle geleer word dat die hemel deur ʼn oerknal ontstaan het, gaan God sy sterkte op ons kinders bou?

Psalm 8 sê: “Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves...” As ons nie elke dag huisgodsdiens hou en ons kinders se monde die Here prys nie, gaan God sy sterkte op ons kinders bou?

Laat ons daarom ons hoop vir die toekoms alleen op die HERE bou, en op niks anders vertrou nie. Laat ons ons hoop uitleef deur kinders van die HERE te ontvang en hulle op te voed volgens Sy Woord.

Aan die einde van hierdie fees gaan ons sing : “Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou.” Ek hoop dat ons vandag beter verstaan hoe die voortrekkers vas op God vertrou het. Verder gaan ons sing : “Dat die erwe van ons vaa’dre vir ons kinders erwe bly.” Ek hoop dat ons vandag beter verstaan waarom kinders nodig is vir die behoud van ons erwe. As daar vertroue is en kinders is, dan is daar hoop vir die toekoms.

Ek sê vir u baie dankie vir die geleentheid om hier te kan praat en u volgehoue aandag.


[1] “Verklaring van het Oude Testament”, Matthew Henry, vertaal deur dr. H. Bavinck, JH Kok, 1912

[2] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 48

[3] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 35

[4] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 41

[5] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 49

[6] “Bloedrivier”, VE d’Assonville, Marnix, 2000, pp. 9

[7] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 52, 65

[8] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 57

[9] “Piet Retief – ‘n Leier vir sy volk”, AJP_ Opperman, Perskor, 1986, pp. 58

[10] “Bloedrivier”, VE d’Assonville, Marnix, 2000, pp. 9

[11] http://members.tripod.com/~Louis_Engelbrecht/na_moord.html

[12] “Bloedrivier”, VE d’Assonville, Marnix, 2000, pp. 19, 41

[13] “Bloedrivier”, VE d’Assonville, Marnix, 2000, pp. 19, 41

16 Des : Geloftedag by Kleinfontein

Hierdie jaar was Geloftedag op 'n sondag. Aangesien ek uitgenooi is om die gelofterede te gee by Kleinfontein, is ons die sondag na Kleinfontein toe.

Dit was soos gewoonlik, een van die mees gereformeerde geloftedienste wat mens kan kry, danksy die invloed van tannie Kittie Kok. Vir die wat belangstel, hieronder is die kaart na Kleinfontein.

Map image

Na die tyd het ons heerlik hekuier met die Durant's. Die kinders het hulle gate uit geniet op die groot perseel. Op die foto is tent waar die sprekers gestaan het. Die mense staan in 'n tou om die besoekersboek te teken.

16122007

15 Des : Weer Jasmyn

Die Saterdag is ons saam met Tania en kinders weer na Jasmyn, naby die hartebeespoortdam. 'n Bietjie koffie gedrink daar en inkopies by die winkel gedoen. Op die foto speel die kinders by die ou treinspoor naby Jasmyn.

15122007(001)

11 - 13 Des : Perdekamp

Vir drie dae lank was die kinders op 'n perdekamp by tannie Roelie. Michael en Christopher het ook saamgegaan. Die oggend 07h30 het dit begin, en die aan 18h00 was dit klaar. Die kinders het stalle skoongemaak, perde skoongemaak, perdgery, geswem en nog baie dinge. Op die eerste foto is Christopher op 'n perd en Lite wat hom help.

By die kamp was ook 'n snoepie. Die kinders het lekers gekoop wat jou tong swart maak. Hier is Michael, Christoper en Corneel met swart tonge.

13122007(001) 11122007

12月8日

7 Des : Daisie

Ons moet 'n miniatuur Doberman Pincher namens Stefanie Bosman verkoop. Vir drie dae het die hondjie toe by ons gewoon. Die kinders het die hondjie Daisie genoem.

Op die foto le die hondjie op Tania se skoot.

06122007

1 Des : Tannie Tania kom kuier

Vanaf 1 Des. het tannie Tania kom kuier saam met Michael en Christopher.

Een aand het ons almal die film "Sufs Up" gaan kyk. Op die foto is Michael en Christopher by die teater.

04122007(001)

30 Nov : Demonstrasie by Duitse skool

Hierdie vrydag het doe Vereniging vir tuisonderwys 'n demonstrasie gehou by die Duitse skool in Pretoria, om protes aan te teken teen die vervolging van tuisskolers in Duitsland.

Ons gesin was daar vir die lengte van die hele demonstrasie.

'n Spesiale webbladsy is opgestel waarin die inligting gepubliseer is oor die vervolging van tuisskolers.

Webbladsy oor vervolging van tuisskolers in Duitsland

30112007(003)

24 Nov : Tswaing krater

Ons sou op hierdie dag saam met 'n groepie tuisskolers na die Tswaing krater gaan. 'n Geoloog sou saamgaan om vir ons dinge te verduidelik.

Toe ons daar aankom was daar egter niemand nie. Die uitstappie is gekanselleer, omdat hulle reen verwag het, maar ons is nie laat weet nie. 'n Rukkie later het daar egter nog twee gesinne aangekom wat ook nie die boodskap gekry het nie.

Aangesien ons nou tog daar was, het ons tog maar besluit om te gaan. Die weer was toe eintlik baie lekker gewees, en dit het niks gereen nie.

Dit was toe nog steeds die moeite werd om te gaan, omdat ons wel 'n pamflet oor die krater gekry het. Dit was 'n volle 4 ure se stap, en ons was moet toe ons klaar was.

Op die foto kan die krater van bo gesien word. Onder in die kom is 'n dammetjie water. Toe ons onder was, was daar nog 'n groepe wat saam met 'n toordokter gekom het. Ek neem aan die sommige mense die water in die krater beskou as water met spesiale kragte.

24112007(005)